Om te blog in Afrikaans

Ek is een van daai mense wat heeltemal goed regkom in ‘n paar ander tale, maar wat maar net nooit ‘n gelyke vir Afrikaans kon raakloop nie. Ek laaik Afrikaans. Ek praat, sing, droom, dink en vloek in Afrikaans. Maar tot nou toe kon ek nog nooit lekker in Afrikaans blog nie!

Ek hoop dat hierdie blog dinge so ‘n bietjie sal verander. Ek hoop Afrikaans.WordPress.com is die ligpuntjie waarna derduisende Afrikaanse bloggers al jare soek.

Op die Internet is alles mos Engels. En dis gewoonlik goed so. Maar as dit by bloggery kom behoort ons tog seker te kan skryf soos ons lekkerkry, of hoe?

Wel, ek kry lekker in Afrikaans! En dis nou net waar die pô-pô die fên straaik!

Verbeel jou:

(Een donker nag… so week gelede… deur ‘n lêptoppie op ‘n groot, vuil lessenaar aan die Kaapse Suidkus… so tussendeur die stoeiery met die blêrrie 3G kaartjie wat maar net nie wil 3G nie…) Die geringde nafi sluip deur die kuberruim na waar WordPress, die uitstekende web-joernaal dienssagteware, wag om (gratis, vry en verniet) afgelaai te word.

Opwinding! Installasie… Sukses!

Maar toe nafi die WordPress in Afrikaans wil hê, is daar nêrens op die ganse Internet ‘n plek om die nodige .mo dokumente af te laai nie!

Dit het baie soek en vinnig leer gekos, maar nou is WordPress in Afrikaans vertaal. Ek stel met graagte die .po en .mo dokumente hier beskikbaar om (ook gratis, vry en verniet) afgelaai te word. En ek hoop julle gebruik en geniet dit:

  • af_ZA.mo – die vertaalde masjienkode wat jy kan gebruik om WordPress 2.1.2 in Afrikaans te kry. (Gooi hom eenvoudig in die “wp-includes/languages/” dokumentlys (directory) van jou WordPress installasie. O, en verander die php lyn define (‘WPLANG’, ”); in wp-config.php na define (‘WPLANG’, ‘af_ZA’); )
  • af_ZA.po – die Afrikaanse vertalingskatalogus vir WordPress 2.1.2, wat jy kan gebruik om my kranklike vertaling in Afrikaans te wysig (m.b.v Poedit).

Die Afrikaanse vertaling is in die vroë oggendure gedoen, so daar mag foute wees. Ek hoop jy sal so gaaf wees om my te laat weet van enige onbesonne woordkeuses in die .po vertalingskatalogus?

Laat weet asseblief as jy ook wil deel wees van die Blog in Afrikaans beweging. Daar is altyd iets wat in Afrikaans vertaal kan word!

Nou moet ek nog net die manne op die hoogtes by WordPress.com kry om die Afrikaanse WordPress ook hier beskikbaar te stel…

Lewer Kommentaar

Required fields are marked *
*
*

%d bloggers like this: